Gustav Preller

Winternag

Deur Eugène Marais
Land en Volk en De Volkstem - 1905

Terug na "Die Taalstryder"

O koud is die windjie
  en skraal,
En blink in die doflig
  en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
  En hoog teen die rande,
  versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
  soos winkende hande.

O treurig die wysie
  op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk' grashalm se vou
  blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
  tot ryp in die kou!

Eugène Marais as
jeugdige koerantman