|
Terug na "Skrywer"
DIE EERSTE TAALBEWEGING EN
DIE GENOOTSKAP VAN REGTE AFRIKANERS (1875)
Voor die einde van die 18de eeu was Afrikaans die huistaal van die burgers aan
die Kaap wat toe al lank nie meer koloniste of setlaars was nie. Al was dit
toe nog Kaaps-Hollands, was dit glad nie meer suiwer Nederlands nie. Die burgers
het Nederlands egter steeds as hulle kultuurtaal beskou. Vir korrespondensie en
amptelike gebruik was Nederlands die gebruikstaal en dit het lank die amptelike
taal gebly.
Ná die uiteindelike anneksasie van die Kaap in 1814 deur Brittanje het die invloed
van Nederlands stelselmatig afgeneem. Deur proklamasie vervang lord Charles
Somerset dit in 1822 deur Engels as kultuurtaal. Engels kry geleidelik die oorhand,
ook op skool en mettertyd selfs in die kerk. Onder die gewone mense bly Afrikaans
egter voortbestaan as kommunikasiemiddel. Al hoe meer geskrifte verskyn in Afrikaans
en digters soos F.W. Reitz en Adam de Smidt publiseer gedigte in Afrikaans.
Gedurende die 1870s word mense bewus van die omvang en krag van die taal. Daadwerklike
pogings om Afrikaans gevestig te kry as erkende taal lei in 1875 tot die stigting
van die Genootskap van Regte Afrikaners (G.R.A.). Die werk van ds G.W.A. van der
Lingen (stigter in 1860 van die Paarlse Gimnasium), Arnoldus Pannevis, C.P. Hoogenhout,
S.J. du Toit (leier van die G.R.A.), en andere verteenwoordig die Eerste Taalbeweging. Hierdie pogings
lei tot die skryf van 'n volkslied, die stigting van koerantjies, soos Die
Afrikaanse Patriot, en 'n voorneme om die Bybel in Afrikaans te vertaal.
|