Joernaliste het 'n belangrike rol in die Tweede Taalbeweging gespeel. In die suide
het J.H.H. de Waal en in die noorde Gustav Preller die voortou geneem en in die Vrystaat
het John Vischer (Blikoor) en ds W. Postma (dr O'Kulis) en in Natal,
J.S.M. Rabie hulle vir Afrikaans beywer. Na die Vrede van Vereeniging het daar 'n verskerpte
besef gekom van die gevaar van algehele oorheersing deur die Engelse taal.
In Maart 1905 het Onze Jan Hofmeyr op Stellenbosch die beroemde rede gehou Is't ons Ernst?
waarin hy die toenemende gebrek aan handhawing van die moedertaal gelaak het. Hy het egter Nederlands bedoel.
Dit het Preller besiel, maar by hom was dit toe reeds 'n uitgemaakte saak dat Afrikaans die moedertaal van die
Afrikaner is. Die volgende maand, April 1905, het sy reeks artikels Laat 't ons toch Ernst Wezen!
 in De Volkstem verskyn. Dit is ook later in pamfletvorm uitgegee en versprei onder die titel:
"Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal." Hiermee het Preller onmiddellik die voortou geneem
en dit is tereg die "Manifes van die Tweede Taalbeweging" genoem. Dit was 'n goed gedokumenteerde stuk wat met Preller
se onverbiddelike logika al die argumente van die teenstanders ontsenu het.
Preller se stelling was positief. Afrikaans moes die fondamentsteen wees waarop
Hollands in Suid-Afrika moes rus - nie omgekeerd nie. Hy het die doel deurgaans as volg voorgehou: "Afrikaans
schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen." Hy gebruik Eugène Marais se gedig, 'Winternag',
om aan te toon waartoe Afrikaans in staat is as 'n bekwame digter dit hanteer.
Op 13 Desember 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap gestig met dr N. Hoogenhout as voorsitter.
Preller se pleidooi was feitlik die aanvang van die latere triomf van Afrikaans.
Deur sy kragtige en doelbewuste optrede het hy die Afrikanerkragte gemobiliseer, het hy die
voorspraak geword wat hom die onbetwiste leier van die taalstryd in die noorde gemaak het.
Preller is ook 'n stigterslid van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst
(later Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) waarvan hy lewenslank lid bly. Van 1913
tot 1925 en van 1925 tot 1927 is hy sekretaris van die Akademie en word later as blyk van waardering
vir sy kultuurarbeid tot erelid verkies. In 1913 lewer hy die eerste referaat in Afrikaans voor die Akademie.
Sien ook besonderhede oor die Akademie se Gustav Prellerprys.