Inhoud
Agtergrond
Die Mens
Die Tweede Vryheidsoorlog
Joernalis
Taalstryder
Historikus
Skrywer en kritikus
Sy Publikasies
Bronnelys
|
Gustav Preller
Gustav Preller die skrywer
Gustav Preller het hom grootliks aan die joernalistiek en geskiedskrywing gewy
maar tog sy hand aan ander skryfwerk gewaag. In De Volkstem
(30 Augustus 1906) verskyn twee van sy gediggies, die weemoedige 'Hoe lang?'
en die hoopvoller 'More'.
In die inleiding tot J.F.E. Celliers se bundel, Die vlakte en ander gedigte,
verskyn sy gedig 'As die soeklig van die wagskip', 'n treffende vertaling van Joubert
Reitz se 'When the searchlight from the gunboat'. In De Volkstem (5 September
1906) plaas hy ook die stuk 'Te wees, of nie te wees' - sy vertaling van 'To be or
not to be'.
Preller werk mee aan die stigting in Maart 1907 van die Afrikaans-Hollandse toneelvereniging,
wat tot 1918 bestaan en waarvan hy ook voorsitter was. Hy lewer vertalings uit Engels en
Frans: Augusta Gregory se Spreading the news bewerk hy in Afrikaans as Hoe die
nieuws versprei het en Thomas Brandon se Charley's Aunt word die gewilde Piet
s'n tante. Sy bewerking van Emile Zola se Les héritieres de Rabourdin, noem
hy Erasmus s'n erfgename.
In sy prosageskrifte is Preller se styl helder, kernagtig en individueel. Van sy beste prosa,
waarin hy die eienskappe van sowel kunstenaar as wetenskaplike vertoon, is te vinde in sommige
van die geskiedkundige werke, bv, sy lewensbeskrywings van Louis Trichardt en Andries Pretorius en sy
oorlogsherinneringe, veral Oorlogsoormag wat as prosawerk van klassieke gehalte is.
Gustav Preller word as verkenner en voorligter vir die jong letterkunde beskou asook Afrikaans
se eerste voortreflike stilis - hy is die vader van die Afrikaanse prosa.
Gustav Preller die literêre kritikus
Op die gebied van die literêre kritiek doen Gustav Preller ook baanbrekerswerk.
Hy openbaar gesonde oordeel en streef na objektiwiteit. As kritikus eis hy
in sy resensies wat in De Volkstem en Die Brandwag verskyn,
van die literêre kunstenaars dat hulle Afrikaans moet aanwend om fyner, dieper
en ernstiger gewaarwordinge weer te gee.
Waar die Afrikaanse Taalgenootskap hom beywer om 'n kritiese standpunt in te neem,
is dit hoofsaaklik Preller wat die leiding neem. Deur die produkte van die
Eerste en Tweede Taalbewegings te bestudeer en 'n vrugbare studie van die Nederlandse letterkunde
te maak, ontwikkel hy tot 'n bekwame kritikus. Na die voorbeeld van die Tagtigers,
bestorm hy almal wat sy taal oneer aandoen en vernietig die gemaakte beelde, wat 'n
valse voorstelling van die taal en lewenservaring weergee. Preller is die eerste
Afrikaanse kritikus met literêre insigte wat hom rekenskap van sy taak en
verantwoordelikheid gee.
In 1968 stel die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die
Gustav Prellerprys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek
in op aanbeveling van die uitgewers, Human en Rousseau. Die doel van die prys is om driejaarliks
erkenning te gee aan persone wat bydraes van hoogstaande gehalte in Afrikaans op die terrein van die
literatuurwetenskap en die letterkundige kritiek gelewer het. Die eerste toekenning is in 1970 gemaak
en die jongste in 2003.
|