Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899, was Gustav
Preller hoofklerk in die Departement van Mynwese. Preller was die
eerste paar maande van die oorlog met die toesig oor die ontginning
van sekere myne belas. Die nag voor die inname van Pretoria was hy
die enigste amptenaar wat generaal J.C. Smuts (destydse staatsprokureur)
kon help om die staafgoud van die regering in veiligheid te bring.
Preller is na die front as lid van die Derde Battery van die
Staatsartillerie en maak die groot slae in Natal mee: Dundee,
Modderspruit, Colenso en die aanval op Platrand by Ladysmith. Hy tree
terselfdertyd as oorlogskorrespondent vir De Volkstem en
De Zoutpansberg Wachter op.
Gedurende die driejarige stryd het Gustav met generaal Louis Botha,
kommandant-generaal van die Republikeinse magte, kennis gemaak. Op 'n
slag het hulle toevallig in dieselfde tent te lande gekom - Preller om
sy berigte op te stel en genl. Botha om te rus. Oomblikke nadat hulle
saam die tent verlaat het, vernietig 'n vyandige bom die tent. Genl.
Botha het laggend na Preller gekyk en kalm opgemerk: "Dit was amper, nê
jongman!" Dié gebeurtenis het 'n groot indruk op Gustav Preller gelaat
en nadere kennismaking met die Boeregeneraal het van hom 'n lewenslange
bewonderaar van Botha gemaak.
Vier maande voor die einde van die oorlog is Preller naby Ermelo gevange
geneem en na Indië verban. Na sy terugkeer uit Indië in Augustus 1902 vind
hy sy mooi woning in Sunnyside, Pretoria, verniel en deur die owerhede as
kantore ingeruim. Al sy besittings was vernietig en sy vrou was
verpleegster by die konsentrasiekamp te Irene. Sy ou departement is van
Pretoria na Johannesburg verskuif en hier moes hy uitvind dat hy nie sy werk
kon terugkry nie.
Diep onder die indruk van die vernedering waaronder sy volk deur die nuwe
bestuur gedwing is, besluit Preller om saam met ds Louis Vorster se groep
in September na Argentinië te vertrek om 'n nuwe lewe daar te begin.
Eugène Marais, gevierde digter en skrywer, het Preller egter met groot moeite
oorreed om in Suid-Afrika aan te bly.