Terug na "Agtergrond"
UITTREKSELS UIT DIE LAUDATIO
GELEWER TYDENS DIE TOEKENNING VAN 'N
ERE-DOKTORSGRAAD AAN GUSTAV S. PRELLER
(3 Desember 1930)
Aanbieder: Prof dr R.W. Wilcocks
"[Mnr Preller se joernalistieke loopbaan] word gekenmerk deur sy leidende aandeel
in die kulturele ontwikkeling van die Afrikaanse volk. So is hy dan ook 'n
uitstaande figuur in die geskiedenis van die twede [sic] Afrikaanse Taalbeweging.
Sy naam is ten nouste verbonde met die ontstaan en geskiedenis van die Taalbeweging in die
Noorde. Sy kragtige pleidooi ten gunste van Afrikaans wat in 1905 as vervolgartikel
in die "Volkstem" verskyn het en daarna in pamflet-vorm uitgegee is onder die
tietel [sic]: 'Laat het ons toch ernst wezen', met die onder tietel: 'Gedachten
over de aanvaarding ener Afrikaanse skryftaal' - kan beskou word as manifes van
die twede Afrikaanse Taal-beweging. Hierdie goed-gedokumenteerde, wetenskaplike
betoog verdien 'n eervolle plek op die polemiese prosa van die twede taal-beweging.
Deur sy onverbiddelike logika het hy vir die eerste maal baie teenstanders van
Afrikaans nie net tot ondersteuners gemaak nie, maar selfs later verander in
geesdriftige voorstanders."
Die laudatio gee erkenning aan die stigting en werk van die Afrikaanse Taalgenootskap
en Die Brandwag, waarvan Preller mede-redakteur en later redakteur was.
Dié tydskrif word beskryf as een van die beste Afrikaanse publikasies, "sowel wat inhoud
as illustratiewe en tipografiese uitvoering betref. Vir die Afrikaanse Taalbeweging
was dit van onberekenbare waarde gewees, terwyl dit tewens oneindig veel beteken het vir die
algemene volksopvoeding in die huisgesin."
Wilcocks verwys ook na die letterkundige gehalte van Preller se geskrifte en die
baanbrekerswerk wat hy as historiese navorser gelewer het. Hy vermeld die feit
dat Preller een van die stigters, jarelank sekretaris en tot op die tydstip van die
toekenning van die ere-graad, steeds een van die vooraanstaande lede van die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was. Wilcocks maak van Preller
se bronnekritiek gewag: "Die kritiese wyse waarop hy teenoor sy bronne staan, wat kenmerkend
is van hierdie werk en wat so noodsakelik [sic] vir die wetenskap is, kom dan ook veral
aan die lig in meer beskrywende werke soos 'Piet Retief', 'Louis Trichardt', Historiese
Opstelle en Sketse. Behalwe hierdie kritiese gesindheid, wat vir objektiewe behandeling
so onmisbaar is toon sy werke ook daardie historiese sin wat die juiste interpretasie
van bronne in die hand werk. Hy word dan ook vandag as gesaghebbend op die gebied van
die Groot Trek beskou, en die wetenskaplike waarde van sy werk geniet algemene erkenning.
Sy hoë verdienstelikheid is ook buite die grense van Suid-Afrika bekend, vandaar dat hy lid
is van die Maatskappy van Nederlandse Letterkunde en van die Historiese Genootskap in Utrecht."
Prof. dr. W. Blommaert, voorsitter van die Senaat, beaam Wilcocks se motivering en beklemtoon
dat die graad toegestaan word "as 'n direkte, sy dit dan laattydige, erkenning van die uitnemende
wetenskaplike werk wat deur dr. Preller op die gebied van ons vaderlandse geskiedenis gelewer is."
|