Gustav Preller is in 1902 deur Eugene Marais oorreed om redakteur van die koerant,
Land en Volk te word. Hy was 27 jaar oud en beland nou in die
joernalistiek waar hy bestem was om 'n groot rol in Suid-Afrika te vervul.
Onder sy leiding verskyn daar op 2 September 1902, vier maande na die
vrede, die eerste Hollandse koerant in Transvaal na die oorlog.
Vir die Afrikaner was hierdie 'n tydperk van armoede, ellende en moedeloosheid
onder 'n streng militêre regime van die Britse owerheid.
"Skoorvoetend het ek die eerste skrede gedoen op die doornige weg," het
Preller later geskryf. En vir hom moes dit 'n groot uitdaging gewees het.
Hy het die taak as totaal onervare koerantman met geen ervare personeel,
aangepak. Sy leserspubliek, van wie die voortbestaan van die blad sou afhang,
was in armoede gedompel. Die owerheid was vyandig en agterdogtig. Preller en
Marais moes verlof kry om die blad uit te gee en hulle was belet om oor die
politiek te skryf. "Maar dit het moeilik gegaan om weg te bly van aktuele dinge
elke dag - die naamlose verdriet wat mens oral aanskou, die verwoesting, die
uitroeiing, die blykbare verdere verdelgingsplanne," het hy geskryf.
Preller het egter te voorskyn getree as 'n forse, dringende persoonlikheid wat
sy moedelose volksgenote geleidelik weer moed kon inpraat en aan hulle 'n
toekomsblik kon gee. Sy woorde in die hoofartikel van die eerste uitgawe
was nie alleen 'n wekroep nie, maar sou ook die wagwoord van sy joernalistieke
en ander werk word, veral dié van 1902 tot 1910.
"Wij hebben onze verschijning in 't strydperk gemaakt door de gratie der boven
ons gestelden; en aan de gratie is verbonden de voorwaarde dat de politiek voor
ons 't gesloten boek sal zijn. Het zij zo. Er is grootser, edeler werk dan de
politiek op 't ogenblik. Er zijn diepe wonden geslagen ... dwars over ons aller
geheugen ligt de schaduw van't verledene ... Doch we willen veeleer 'n zoodanige
boodschap tot ons volk brengen waardoor hij in staat gesteld zal worden 'n hand
te reiken door de Tijd, en de vér verwijderde voordelen onzer tranen te grijpen!"
In 1903 is Land en Volk met De Volkstem verenig. Gustav Preller
word assistent-redakteur van De Volkstem tot 1924 en volg dr F.V. Engelenburg
in daardie jaar as redakteur op. In 1925 bedank hy om politieke redes en word
redakteur van Ons Vaderland  (later Die Vaderland). Toe Die
Brandwag op 31 Mei 1910 onder redaksie van dr W.M.R. Malherbe tot stand kom,
word Preller mede-redakteur. Met dr Malherbe se vertrek na Stellenbosch vervang
Preller hom as redakteur tot 1922. Die Brandwag was van onskatbare waarde
vir die taalbeweging en onder die gereelde mewewerkers het Jochem van Bruggen,
Leon Maré, E de Roubaix, M.M. Jansen, Hettie Cillié en mev. Izak van Heerden getel.
In die Afrikaanse joernalistiek onderskei Preller hom as 'n groot en veelsydige
joernalis. In sy beste hoofartikels bly hy ongeëwenaard en as verslaggewer
skitterend, met 'n besondere gevoel vir nuuswaarde.
Preller onttrek hom in 1936 aan die joernalistiek om hom as staatshistorikus
aan geskiedkundige navorsing te wy. Hy vestig hom nou op sy plaas by Pelindaba
waar hy self sy sierlike klipsteenwoning bou.