Inhoud

Tuisblad

Agtergrond

Die Mens

Die Tweede
Vryheidsoorlog

Joernalis

Taalstryder

Historikus

Skrywer en
kritikus

Sy Publikasies

Bronnelys

Gustav Preller


Die Joernalis

Gustav Preller is in 1902 deur Eugene Marais oorreed om redakteur van die koerant, Land en Volk te word. Hy was 27 jaar oud en beland nou in die joernalistiek waar hy bestem was om 'n groot rol in Suid-Afrika te vervul. Onder sy leiding verskyn daar op 2 September 1902, vier maande na die vrede, die eerste Hollandse koerant in Transvaal na die oorlog. [Gustav Preller]

Vir die Afrikaner was hierdie 'n tydperk van armoede, ellende en moedeloosheid onder 'n streng militêre regime van die Britse owerheid.

"Skoorvoetend het ek die eerste skrede gedoen op die doornige weg," het Preller later geskryf. En vir hom moes dit 'n groot uitdaging gewees het. Hy het die taak as totaal onervare koerantman met geen ervare personeel, aangepak. Sy leserspubliek, van wie die voortbestaan van die blad sou afhang, was in armoede gedompel. Die owerheid was vyandig en agterdogtig. Preller en Marais moes verlof kry om die blad uit te gee en hulle was belet om oor die politiek te skryf. "Maar dit het moeilik gegaan om weg te bly van aktuele dinge elke dag - die naamlose verdriet wat mens oral aanskou, die verwoesting, die uitroeiing, die blykbare verdere verdelgingsplanne," het hy geskryf.

Preller het egter te voorskyn getree as 'n forse, dringende persoonlikheid wat sy moedelose volksgenote geleidelik weer moed kon inpraat en aan hulle 'n toekomsblik kon gee. Sy woorde in die hoofartikel van die eerste uitgawe was nie alleen 'n wekroep nie, maar sou ook die wagwoord van sy joernalistieke en ander werk word, veral dié van 1902 tot 1910.

"Wij hebben onze verschijning in 't strydperk gemaakt door de gratie der boven ons gestelden; en aan de gratie is verbonden de voorwaarde dat de politiek voor ons 't gesloten boek sal zijn. Het zij zo. Er is grootser, edeler werk dan de politiek op 't ogenblik. Er zijn diepe wonden geslagen ... dwars over ons aller geheugen ligt de schaduw van't verledene ... Doch we willen veeleer 'n zoodanige boodschap tot ons volk brengen waardoor hij in staat gesteld zal worden 'n hand te reiken door de Tijd, en de vér verwijderde voordelen onzer tranen te grijpen!"

In 1903 is Land en Volk met De Volkstem verenig. Gustav Preller word assistent-redakteur van De Volkstem tot 1924 en volg dr F.V. Engelenburg in daardie jaar as redakteur op. In 1925 bedank hy om politieke redes en word redakteur van Ons Vaderland  (later Die Vaderland). Toe Die Brandwag op 31 Mei 1910 onder redaksie van dr W.M.R. Malherbe tot stand kom, word Preller mede-redakteur. Met dr Malherbe se vertrek na Stellenbosch vervang Preller hom as redakteur tot 1922. Die Brandwag was van onskatbare waarde vir die taalbeweging en onder die gereelde mewewerkers het Jochem van Bruggen, Leon Maré, E de Roubaix, M.M. Jansen, Hettie Cillié en mev. Izak van Heerden getel.

In die Afrikaanse joernalistiek onderskei Preller hom as 'n groot en veelsydige joernalis. In sy beste hoofartikels bly hy ongeëwenaard en as verslaggewer skitterend, met 'n besondere gevoel vir nuuswaarde.

Preller onttrek hom in 1936 aan die joernalistiek om hom as staatshistorikus aan geskiedkundige navorsing te wy. Hy vestig hom nou op sy plaas by Pelindaba waar hy self sy sierlike klipsteenwoning bou.