Inhoud
Agtergrond
Die Mens
Die Tweede Vryheidsoorlog
Joernalis
Taalstryder
Historikus
Skrywer en kritikus
Sy Publikasies
Bronnelys
|
Gustav Preller
 
Die Historikus
Gustav Preller het deur sy navorsing en geskiedskrywing
die leiers van die Groot Trek, soos Louis Trichardt, Andries Pretorius, Piet Retief,
Sarel Cilliers en ander herskep tot lewende wesens; hy was die eerste historikus
wat die Trek in sy juiste perspektief geplaas het.
Sy ontplooiing as geskiedskrywer moet gesien word teen sy deelname aan die
taalstryd en sy strewe tot die opheffing en opwekking van die Afrikaner na die
oorlog. Sy artikels in De Volkstem oor Piet Retief is in 1906 in boekvorm
uitgegee. Hoewel hy toe reeds lank besig was met die versameling van geskiedkundige
stukke, was dit die begin van sy historiese geskrifte.
Piet Retief  het eintlik ontstaan as 'n diepgevoelde behoefte vir 'n handleiding
by "Dingaansdag"-byeenkomste en dit het verder gevoer tot die reeks Voortrekkermense
en ander werke.
In sy beskeidenheid het Preller homself nooit 'n geskiedkundige genoem nie, maar wel
"iemand wat die geskiedenis liefhet". Hy het stof met groot ywer versamel en gerangskik
en dit lewend in sy geskrifte weergegee. Daarom kon hy sy volk ook tegelyk leer om hulle
eie taal te lees en as skryftaal te beoefen. Sy hoofverdienste as historikus is sy
bronnepublikasies wat, in sy eie woorde, ons in staat stel "om die Voortrekkers te leer
ken soos hulle hulself gesien het, op trek, in die laer, op die jag en in die huislike
kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag
van hul tyd".
Die groot verdienste van sy vroeë bydraes was dat hy daarmee balsem op die wonde van
die volk gegiet het deur die helde uit die verlede tot heroïese figure te herskep wat
teen die agtergrond van die nasionale verlede uitstaan. In sy liriese prosa het hy
die vaderlandse verlede laat herleef en tegelyk 'n vonkelnuwe taal geskep wat van
Piet Retief die mees gelese Afrikaanse geskiedenisboek gemaak het.
|