Inhoud

Tuisblad

Agtergrond

Die Mens

Die Tweede
Vryheidsoorlog

Joernalis

Taalstryder

Historikus

Skrywer en
kritikus

Sy Publikasies

Bronnelys

Gustav Preller


Lewensloop

Die Prellers se stamvader in Suid-Afrika, Johann Friedrich Preller, het in 1786 as soldaat in die Kaap aangekom vanaf Halle an der Saale, Duitsland. Hy trou in 1794 met Zacharia Christina de Beer en sewe kinders word uit die huwelik gebore.

Gustav Schoeman Preller was die seun van kommandant Robert Clunie Logie Preller ('n kleinkind van Johann Friedrich) en Stephanie Maria Aletta Schoeman, en is op 4 Oktober 1875 op die plaas Klein Schoemansdal, Klipdrif, Pretoria gebore. Die plaas was destyds die eiendom van sy grootvader aan moederskant, generaal Stefanus Schoeman, en vorm tans deel van die stad Pretoria, ten noorde van Boomstraat tot aan die Apiesrivier.

[Gustav & Hannie Preller] Gustav het slegs nagenoeg drie jaar skoolopleiding geniet en aanvanklik as winkelassistent op Standerton gewerk. Sy gesin het later Pretoria toe getrek waar Gustav agtereenvolgens as winkelassistent, prokureursklerk en klerk in die Departement van Mynwese werksaam was. Sy vrye tyd het hy meestal aan studie gewy. Wat hy tot stand gebring het was die vrug van selfvorming en -ontwikkeling.

Gustav trou met Johanna Pretorius, 'n afstammeling van beide generaal Andries Pretorius, held van Bloedrivier, en die Voortrekkerleier, Piet Retief. Die egpaar het drie seuns gehad, naamlik Carl, Robert en Gustav.

Op aanbeveling van dr J.A. Wiid ken die Universiteit van Stellenbosch op 3 Desember 1930 'n ere-doktorsgraad in Lettere en Wysbegeerte aan Preller toe.

Gustav Preller is op 7 Oktober 1943 (enkele dae na sy 68ste verjaarsdag) oorlede. Sy stoflike oorskot is op tradisionele wyse per waentjie na die familie-begraafplaas te Pelindaba vervoer en weggelê saam met dié van Marthinus Wessel Pretorius en die Voortrekkervrou, Deborah Retief.